top of page

HUWELIED

Huwelied is die sensasionele sangpaar, Corné en Heidi Dannhauser, wat ook 'n regte egpaar is en Suid-Afrikaners se harte oorrompel met sinvolle lirieke, heerlike melodieë en 'n onmisbare sprankel.

Huwelied - Musikale pitkos vir elkeen wat dapper genoeg is om eerlik te wil wees.

​

As jou middagslapie vandag vir jou belangriker was as om na Huwelied te gaan luister, is dit jou verlies. As jou gewete jou hierna pla omdat jy jou gees die geleentheid misgun het om verryk te word, heroorweeg jou prioriteite.

​

Huwelied het vandag by Coffee@Capital getoon wat ware kunstenaarwees is. Hulle fyn waarneming van lewensituasies is die pitkos wat hulle diep-luister musiek, so treffend maak. As jy een woordjie mis, mis jy dalk ‘n hele stukkie wysheid wat in die subteks verskuil gelê het. Dit is ook lekkerluister musiek wat jy weer en weer sal wil hoor. Hierdie musiek spreek tot lewenssituasies wat elkeen van ons, op een of ander wyse, al in ons lewens beleef het, of van kennis geneem het.

​

Corné se lirieke getuig van geniale denke. Sy fyn verwoording van gedagtes en emosies wat ek en jy nog altyd wou verwoord maar nie geweet het hoe nie, gee ons meteens daardie gemoedsrus, dat ons nie alleen is nie. Verfrissend anders as die oorvloed kommersiële treffers op die mark wat op blote herhaling, dwangrym en genitale denke berus.

​

Met stem, viool en kitaar, noop hulle elke luisteraar om fyn te luister. Hul stemme is in harmonie, hul instrumente in voeling met elke lied. Genoeg geïnspireerde subteks, dat wat dié wat fyn geluister het, se gewetens hulle dalkies net vannag mag aanspreek as alles stil word...

Huwelied gee diegene wat essensie in musiek wil hoor, weer hoop. Hulle albums sal onder dié wees, wat nie elke paar jaar vervang word nie, maar in jou immergroen musiekrak sal bly pryk.

​

Welgedaan, Huwelied. 

​

(Oorspronklike artikel by http://www.stof.co.za/artikels/art00437/index.htm)

bottom of page